
Karlien van Jaarsveld keer terug met nuwe enkelsnit, ‘Te Min, Teveel’
Karlien van Jaarsveld is geen vreemdeling in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie. Met ’n loopbaan wat oor byna twee dekades strek en talle nommer een-treffers agter haar naam, is sy weer in die kollig met haar jongste enkelsnit, “Te Min, Teveel” — ’n liedjie uit die pen van die gesoute liedjieskrywers Georic Lomas en Marco van Deventer.
“Ek hoop vir elkeen om op ’n plek te kom binne hulle verhoudings waar hartbreek nie bestaan nie, ’n plek waar daar ware eenheid is al is julle twee,” sê Karlien oor die hartklop van die liedjie.
Wat “Te Min, Teveel” onderskei van haar vorige werk, is die upbeat element daarvan. “Ek is meer van ’n balade-skrywer, so hierdie een bring weer bietjie ’n opgewekte ritme,” verduidelik sy. Hierdie vars benadering bring ’n nuwe dinamika tot Karlien se musiek, sonder om haar kenmerkende emosionele diepte prys te gee.
Die musiekvideo, verfilm deur Eric T Graham en Tehan Buys van ETC Creative, is net so uniek soos die liedjie self. “Ons het letterlik twee ure voor die video geskiet is die hele konsep verander,” vertel Karlien. “Ek wou helder kleure dra in ’n veld waar die son sak – dit beeld uit hoe mens soms vasgevang voel in die wêreld, maar as jy jou ware natuur onthou, raak jy weer los, en dis kleurvol.”
Die video se agter-die-skerms oomblikke het ook vir Karlien diep betekenis gehad. “Toe my man en kinders op die stel opdaag en saam met die span help – dis ’n toneel wat ek nooit sal vergeet nie. Die wonder in my kinders se oë was vir my so mooi. Hulle sien nie gereeld hoe ons video’s maak nie.”
“Die idee van ’n kar pak en die horison jaag, is waar my hart lê. So iewers op daardie horison lê lyne saam met Joe en my kinders,” sê sy oor die mees emosionele aspek van die liedjie.
“Ek is opgewonde oor hierdie liedjie en ek hoop vir nog ’n liedjie om deel van 18 jaar se argiewe te word,” sê Karlien.
En haar boodskap aan luisteraars? “Volg die horison. Daar is ’n ritme wat anders dans as dié van die wêreld. Jy ken dit – dis in jou binneste.”
- Te Min, Teveel is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.