
Ricus Nel en Riaan Benadé mik in die regte rigting met ‘308’
Ná die reuse-sukses van hul treffer “Haai Haai” in 2022, is Ricus Nel en Riaan Benadé terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat beslis weer die land aan die sing gaan hê. Dié nuwe liedjie, getiteld “308”, is propvol karakter, humor en ’n unieke Afrikaanse musiekmengsel wat net hierdie twee kunstenaars so goed kan regkry.
“Riaan het my genader en gesê ons moet weer iets saam doen,” vertel Ricus. “Ons het saam iets besonders geskep met ‘Haai Haai’ — en nou het hy die liedjie ‘308’ geskryf, wat ek in my ateljee vervaardig het. Ek het ook al die instrumente opgeneem en gespeel.”
Volgens Ricus is “308” ’n lekker Afrikaanse country rock-liedjie, met sterk invloede van boeremusiek én ’n skeutjie regea vir daardie ekstra skop. “Die tema van die liedjie draai om die ou bekende debat: watter kaliber is die beste? Dis ’n tong-in-die-kies storie waar ons ’n bietjie lag en saam gesels oor vuurwapens en jag,” verduidelik hy met ’n glimlag. “Maar teen die einde van die liedjie sê ek net eenvoudig – dis lekker om te jag!”
Die musiekvideo is net so kreatief soos die liedjie self. Dit speel af in ’n fiktiewe jagwinkel waar Ricus en Riaan probeer om ’n besluitelose klant, gespeel deur Marco van Deventer, te help om die regte geweer te kies. “Dis skreeusnaaks,” sê Riaan. “Mense gaan hierdie video met ’n groot glimlag kyk.”
Die musiekvideo is met flair verfilm en vervaardig deur Eric T Graham en Tehan Buys, wat die snaakse tonele en karaktervolle uitvoering perfek vasgevang het.
- 308 is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.