JACOBUS maak sy musiekdroom waar met debuutenkelsnit ‘Gat In Jou Sak’

In Desember 2024 plaas ’n jong, passievolle musikant van Robertson ’n eenvoudige, maar treffende TikTok-video waarin hy vir Demi Lee Moore se gewilde liedjie “Mis Eet Slaap Herhaal” ’n nuwe baadjie aantrek. Dié video vang nie net die harte van meer as 80 000 kykers nie, maar ook die aandag van Coleske Artist — wat hom gou daarna ’n platekontrak aanbied.


Nou, skaars vyf maande later, reik JACOBUS sy debuutenkelsnit “Gat In Jou Sak” amptelik uit op 16 Mei. Dié liedjie is ’n vars, eerlike weergawe van Afrikaanse kontemporêre musiek — met ’n sterk storielyn en ’n rou, akoestiese klank wat reeds by aanhangers aanklank vind.


“‘Gat in jou sak’ was baie spontaan geskryf,” vertel JACOBUS. “Ek en my broer was op pad plaas toe en toe kry ek die idee van iets verloor deur die gat in jou sak. Teen die tyd wat ons weer by die huis was, het ek met my kitaar gaan sit en die hele storie het eenvoudig uitgevloei.”


Hoewel JACOBUS hom tans toespits op sy wynkundestudies aan die Universiteit van Stellenbosch, bly musiek sy grootste liefde. Hy het op ’n wynplaas grootgeword en vertel dat sy pa se betrokkenheid by wynmaak daartoe gelei het dat sy twee passies – wyn en musiek – natuurlik saam ontwikkel het.


“My musiek fokus baie op storievertelling en om ’n gevoel te skep rondom die woorde. Ek dink die rou klank van die kitaar help om die boodskap van ‘Gat in jou sak’ regtig tuis te bring.”


Sy familie is vir hom ’n onmisbare deel van sy kreatiewe proses. “Ek weet ek kan altyd op hul eerlike terugvoer staatmaak. Of dit nou ’n nuwe liedjie is of net ’n idee — hulle dra by tot elke deel van my musiek.”


Vir JACOBUS is die vrystelling van “Gat in jou sak” ’n droom wat bewaarheid word. “Dit voel onwerklik. Om my musiek met die wêreld te kan deel is iets waarvoor ek lank gewag het. Ek hoop mense kan hulleself vereenselwig met wat ek probeer sê — of dit hulle beter laat voel oor iets, of net ’n bietjie geluk bring.”


Dié liedjie gaan gepaard met ’n pragtige musiekvideo wat deur Elias verfilm is. Die TikTok-ster Mila G speel die vroulike hoofrol, en haar natuurlike kamera-teenwoordigheid en sin vir humor het perfek ingepas by die storielyn. “Ons wys hoe iets klein, soos ’n emosionele glips of misverstand, kan lei tot die verlies van iets spesiaal – soos om iets deur ’n gat in jou sak te verloor. Dis visueel baie mooi.”


JACOBUS, wat aan Hoërskool Boland Landbou gematrikuleer het, is al van jongs af musikaal. Hy het vir vyf jaar klavier gespeel en selfs vir ’n jaar tjello aangepak. Sport het ook ’n groot rol in sy lewe gespeel, totdat beserings hom gedwing het om sy fokus meer op musiek te plaas.


As jy hom vra met wie hy eendag graag ’n duet wil opneem, antwoord hy sonder huiwering: “Demi Lee Moore. Sy was nog altyd op my playlist. My weergawe van ‘Mis Eet Slaap Herhaal’ het vir my deure oopgemaak, so dit sal ongelooflik spesiaal wees om eendag iets saam met haar te doen.”



Met ’n unieke klank, sterk waardes, en ’n natuurlike aanvoeling vir storievertelling, is dit duidelik: JACOBUS is ’n nuwe stem in die Afrikaanse musiekwêreld om dop te hou.



  • Gat In Jou Sak is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.


LUISTER HIER
deel hierdie artikel
Deur Coleske Artists 09 Mei 2025
Chris Steyn bring sy nuwe kuierliedjie al die pad bos toe!
Deur Coleske Artists 06 Mei 2025
Afrikaans is Groot kom Kaap toe vir ’n historiese 100 jaar konsert
Deur Coleske Artists 02 Mei 2025
Riana Nel se nuwe liedjie is ’n kragtige poprock-getuienis van keuses
MEER ARTIKELS