Liza Nel skitter met haar mees persoonlike liedjie nóg!

In 2023 het die Afrikaanse musiekbedryf die blondekop sangeres Liza Nel leer ken met haar vrolike en tong-in-die-kies liedjie “My Bok”. In 2024 het sy verder haar plek in die bedryf gevestig met die liedjie “Rooi”. En nou is sy terug – en sterker as ooit – met haar beste werk nóg, die splinternuwe enkelsnit “Moes Maar Ek Moenie.”


Dié liedjie is ’n spanpoging tussen Liza self, Bella Coleske, Georic Lomas en Marco van Deventer – ’n kreatiewe kombinasie wat ’n musiekstuk geskep het wat nie net melodieus betower nie, maar ook diep emosioneel raak. “Dit was vir my die grootste voorreg,” sê Liza.

Sy beskryf “Moes Maar Ek Moenie” as ’n Country-liedjie met ’n folky gevoel, soortgelyk aan die styl van The Lumineers. Die lirieke getuig van seer, weerloosheid en uiteindelik, genesing. Dis ’n liedjie wat spreek van ’n mens se vrees om weer lief te hê ná hartseer, maar ook van die transformerende krag van onvoorwaardelike liefde.


“Elke mens was al op een of ander manier seer gemaak deur die liefde... Tot jy op ’n dag iemand ontmoet wat jou weer leer om lief te hê,” vertel sy openhartig.


Hierdie storie is nie net fiksie nie – dit is haar eie. Liza, wat getroud is met die gewilde sanger Ricus Nel, deel dat die liedjie geïnspireer is deur haar eie pad in die liefde.


“Ek wil hê mense moet weet dat almal liefde verdien,” sê sy. “Die liedjie is ’n stuk van my hart wat ek met almal wil deel.”

Liza glo dat die geheim van sukses lê in egtheid. Sy glo mense voel dit as ’n kunstenaar eerlik is – en hulle weet ook dadelik as jy nie is nie. “Ek hoop mense sal kan vereenselwig met die liedjie en dat dit met hulle harte sal praat,” sê sy.


Saam met die liedjie is daar ook ’n pragtige musiekvideo, verfilm deur Eric T Graham en Tehan Buys van ETC Creative. Liza beskryf die verfilming as een van die lekkerste ervarings van haar loopbaan. “Ek was só dankbaar vir elkeen wat betrokke was. Dit was rêrig ongelooflik!”


Die video is in ’n asemrowende veld verfilm – een wat Liza laat dink aan die gewilde televisiereeks, Yellowtone – en die natuur het saamgespeel met ’n dramatiese sonsondergang. Vir Liza was dit asof die Here persoonlik die toneel afgerond het.


Vir die video dra Liza ’n spesiale skepping deur Reandi Grey van GreyC Creations – ’n uitrusting wat só spesiaal gemaak is dat dit selfs kleur- en stylontleding deur Jeanne Pistorius van Kleurvol ingesluit het. “Ek het laas op my troudag so mooi gevoel,” glimlag sy.


Van haar hare en grimering deur Suna Robberts, tot die agter-die-skerms werk van Marco van Deventer, die foto’s deur Hendri Viljoen en die leiding van Georic Lomas op stel – Liza is vol lof en dankbaarheid teenoor elkeen wat deel was van hierdie reis.



Met “Moes Maar Ek Moenie” wys Liza Nel nie net haar groei as kunstenaar nie, maar ook haar vermoë om haar hart met haar musiek te deel. Dit is ’n liedjie wat waarskynlik diep gaan resoneer met luisteraars – en dalk selfs hoop gee aan dié wat bang is om weer lief te hê.

Vir Liza is hierdie liedjie meer as net nog ’n enkelsnit – dit is ’n liefdesbrief aan elkeen wat al seer gekry het, maar steeds glo in die krag van liefde.



  • Moes Maar Ek Moenie is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.


LUISTER HIER
deel hierdie artikel
Deur Coleske Artists 30 Mei 2025
Vyf sangers vat die pad bos toe vir ’n ‘Jagtrip’
Deur Coleske Artists 16 Mei 2025
JACOBUS maak sy musiekdroom waar met debuutenkelsnit ‘Gat In Jou Sak’
Deur Coleske Artists 09 Mei 2025
Chris Steyn bring sy nuwe kuierliedjie al die pad bos toe!
MEER ARTIKELS