Vyf sangers vat die pad bos toe vir ’n ‘Jagtrip’

Pak jou tas, want vyf van Suid-Afrika se gewildste manlike kunstenaars – Ricus Nel, Ruhan du Toit, Chris Steyn, Bok van Blerk en Jay – gaan op ’n “jagtrip”!


Dié manne se jagavontuur het sopas begin – dis ook die inspirasie én titel van ’n splinternuwe enkelsnit, “Jagtrip”, wat pas op digitale stroomdienste uitgereik is.


Dié energieke liedjie is geskryf deur Georic Lomas en Marco van Deventer, wat self die idee gekry het terwyl hulle op hul eie jagtrip was. “Ons was saam met ’n klomp manne in die bos. Ons kon nie regtig jag nie, maar ons het definitief die gees gebring,” lag Marco. Georic voeg by: “Daar is altyd daai ouens wat jag vir die trofees… en dan is daar ons – wat jag vir die gees.”

Die samewerking tussen die vyf kunstenaars bring hope persoonlikheid, humor en kameraadskap na die liedjie. Elk van hulle bring sy eie “jag-gewoontes” saam.


Jay deel met ’n knipoog: “Wanneer ek bos toe gaan, pak ek altyd my .300 WinMag, my jagpakkie, hoed en vellies, my fles, mes, flits, patrone – en natuurlik skoon onderbroeke!” Hy voeg by: “Onthou om jou werk en alles wat jou pla by die huis te los en die bos te geniet.”

Bok van Blerk neem dit met dieselfde tong-in-die-kies-humor: “Ek pak gewoonlik my kettie, ’n knipmes en onderbroeke… en ek maak seker mamma het blomme en dat die kredietkaart se limiet laag is voor ek gaan jag,” lag hy.


“Jagtrip” is ’n liedjie vir die manne (en vroue!) wat hou van ’n bietjie bosveld-gees – of jy nou regtig op ’n jagtrip is, of net wens jy kon gaan. Met ’n pakkende melodie, skerp lirieke en die unieke stemme van vyf van die land se gunsteling sangers, beloof dié snit om die klankbaan van jou volgende jagavontuur te wees.



Dis tyd om die werk agter te laat, die flessie te vat, en die volume oop te draai – want hierdie “Jagtrip” gaan loop soos stroop!



  • Jagtrip is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.


LUISTER HIER
deel hierdie artikel
Deur Coleske Artists 18 Augustus 2025
ONS verf die dansvloer blou met nuwe enkelsnit
Deur Coleske Artists 11 Augustus 2025
Lukas 10:2 inspireer Appel se nuwe enkelsnit vanaf die kortspeler ‘Genisis’
Deur Coleske Artists 31 Julie 2025
Riana Nel gee beheer oor met diep roerende nuwe enkelsnit
MEER ARTIKELS