Jay du Plessis maak winter warmer met nuwe liedjie ‘Dans Die Vlamme Dood’

Die yskoue winter mag dalk met ons wees, maar Jay du Plessis is hier om dinge warm te maak! Met sy splinternuwe enkelsnit, “Dans Die Vlamme Dood”, nooi hy aanhangers regoor die land om die koue af te skud en saam met hom te dans soos net hy kan.


“Dans Die Vlamme Dood” is ’n opwindende toevoeging tot Jay se bekende dans/pop-repertoire en vertel die storie van ’n man wat vir sy geliefde sing oor die wonderlike tye wat vir hulle voorlê. Die liedjie is ’n eerbetoon aan liefde, geluk en die eenvoudige vreugde van saam wees – perfek vir ’n Vrydagaand as jy die week se probleme agter jou wil laat.


Wat dié snit besonder spesiaal maak, is die feit dat dit geskryf is deur Jay se goeie vriend, Johan Oberholzer, wat vroeër vanjaar oorlede is. “Ek wens ek kon Johan vra wat sy inspirasie was,” sê Jay. “Maar dit maak die liedjie vir my soveel meer persoonlik en emosioneel waardevol.”


Die produksie van die liedjie is behartig deur die talentvolle Werner Beukes, ’n ou vriend van Jay. “Dit was ’n fees om weer saam met Werner te werk ná ’n paar jaar. Ons is reeds besig met nóg iets opwindends saam – hou gerus dop!”


Hoewel daar nie tans ’n musiekvideo beplan word nie, kan aanhangers uitsien na ’n liriekvideo – perfek om saam te sing en te dans.

Jay deel: “Ek is net opgewonde om mense se voete aan die beweeg te kry. Dis presies wat hierdie liedjie doen – dis ’n regte danssnit met energie, warmte en lewenslus. Ek hoop die publiek ontvang dit goed. Tot dusver was ek nog nooit teleurgestel deur my getroue luisteraars nie.”


“Dans Die Vlamme Dood” is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Sit die volume op maksimum, trek jou dansskoene aan, en laat Jay du Plessis jou winter warmer maak!




  • Dans Die Vlamme Dood is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.


LUISTER HIER
deel hierdie artikel
Deur Coleske Artists 30 Mei 2025
Vyf sangers vat die pad bos toe vir ’n ‘Jagtrip’
Deur Analda Breedt 26 Mei 2025
Liza Nel skitter met haar mees persoonlike liedjie nóg!
Deur Coleske Artists 16 Mei 2025
JACOBUS maak sy musiekdroom waar met debuutenkelsnit ‘Gat In Jou Sak’
MEER ARTIKELS