
JACOBUS waag hand aan nuwe klank met ‘Mila’
Ná ’n indrukwekkende debuutjaar waarin die jong en talentvolle JACOBUS die kollig betree het met sy eerste twee enkelsnitte, “Gat In Jou Sak” en “Wag Dat Jy Terugkeer”, is dié sanger en liedjieskrywer terug met ’n splinternuwe uitreiking: “Mila”.
“Mila” is ’n liedjie wat in die stilte van sy kamer op die plaas ontstaan het – ’n eerlike, spontane skepping wat die gevoel van ’n roekelose, filmiese liefde vasvang. “Dit gaan oor ’n roekelose fliek-liefde. Waar mens die beste tye van jou lewe saam met iemand het,” verduidelik JACOBUS.
Waar “Gat In Jou Sak” en “Wag Dat Jy Terugkeer” die seer en verlange van liefde belig het, vertel “Mila” ’n ander kant van die verhaal – een van lig, vryheid en die soort herinneringe wat jou laat glimlag wanneer jy dit die minste verwag. Volgens JACOBUS is dit ’n liedjie waarop mense behoorlik sal kan dans en kuier.
Met dié uitreiking waag hy hom ook buite sy bekende klank. “Mila” is ’n styl-eksperiment wat ’n nuwe rigting aandui vir sy musiek. “Ek sien uit na mense se terugvoer. As mense van ‘Mila’ gaan hou, gaan hulle beslis van die volgende liedjies hou,” sê hy.
Die musiekvideo vir “Mila” is verfilm deur Elias, wat ook JACOBUS se debuutvideo vir “Gat In Jou Sak” behartig het. Soos met sy eerste video, maak die gewilde TikTok-ster Mila G weer ’n verskyning.
Die video vertel die storie van ’n meisie wat rondloop terwyl sy na ’n liedjie luister wat haar terugneem na ’n goeie tyd in haar lewe. Soos die herinneringe ontvou, kruis sy weer paaie met die rede vir daardie spesiale oomblikke – en alles kom in ’n sirkel bymekaar.
Met sy oog op 2026, is JACOBUS gereed om nóg meer energie na die Afrikaanse musiektoneel te bring. “Ek wil baie meer musiek uitbring waarop mense kan dans en kuier. So verwag om ’n nuwe styl te sien,” deel hy opgewonde.
Met “Mila” wys JACOBUS dat hy nie bang is om te groei, te eksperimenteer en nuwe hoofstukke oop te skryf nie – en dié een klink beslis na die begin van ’n opwindende nuwe era.
- Mila is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.




