
VIA-REEKS BRING KYKERS AGTER DIE SKERMS VAN AIG 2025
VIA (DStv-kanaal 147) is gereed om kykers ’n unieke blik te gee op die emosionele reise van vyf van Suid-Afrika se geliefste kunstenaars terwyl hulle voorberei vir die grootste byeenkoms in Afrikaanse musiek.
Die oomblik, ’n ses-episode-werklikheidsdokumentêre reeks, begin op 22 Februarie 2026 en nuwe episodes sal elke Sondagaand om 20:00 uitgesaai word.
Die oomblik is ’n boeiende dokumentêre reeks wat kykers neem op ’n intieme reis saam met vyf uiteenlopende kunstenaars – Spoegwolf, Karlien van Jaarsveld, Dodo Nyoka, Demi Lee Moore en Appel – terwyl elkeen voorberei vir hul optredes by 2025 se Afrikaans is Groot-megakonserte in Pretoria.
"Die oomblik trek die gordyn oop vir ’n eksklusiewe kyk agter die skerms van Afrikaans is Groot en neem kykers saam op reis met van Suid-Afrika se geliefste kunstenaars. Ons ontmoet hul aanhangers en sien wat dit verg om uiteindelik die verhoog te betree," sê Zandri Douglas, die regisseur van Die oomblik.
Elke episode bied ’n diep karakterstudie wat die kunstenaar se persoonlike reis asook ’n portret van die mense wat daardie oomblik vir hulle moontlik gemaak het: ondersteuners, toegewyde superfans, én Afrikaans is Groot se agter-die-skerms-span.
Die reeks begin twee maande voor die groot byeenkoms en bou geleidelik spanning op deur die weke van voorbereiding, intensiewe repetisies en reis, en kulmineer in ’n klimaktiese finale episode wat die al die spanning en aksie agter die konsert se skerms dek.
Lea Knoesen, die reeksvervaardiger van Die oomblik, voeg by: "Ons is so opgewonde om vir kykers ’n ware kykie te gee van wat agter die skerms by Afrikaans is Groot aangaan. Wat ’n voorreg om vyf van ons land se grootste kunstenaars te sien voorberei vir die grootste konsert van die jaar!"
Arnold Coleske, die uitvoerende vervaardiger van Afrikaans is Groot, is verheug oor die samewerking met VIA: “Ons is trots om vir die eerste keer in Afrikaans is Groot se geskiedenis die deur oop te maak en vir kykers ’n kykie in ons wêreld te gee.”
Episode-lys:
- Episode 1 (22 Februarie) - Spoegwolf
- Episode 2 (1 Maart) - Karlien van Jaarsveld
- Episode 3 (8 Maart) - Dodo Nyoka
- Episode 4 (15 Maart) - Demi Lee Moore
- Episode 5 (22 Maart) - Appel
- Episode 6 (29 Maart) - Agter die skerms by Afrikaans is Groot
- Die oomblik begin op Sondag, 22 Februarie 2026 om 20:00 op VIA (DStv kanaal 147). Nuwe episodes word elke Sondag om 20:00 uitgesaai. Die volledige reeks sal ook beskikbaar wees op Catch Up en DStv Stream.
- Kaartjies vir Afrikaans is Groot 2026 is vanaf 31 Maart 2026 om 10:00 eksklusief op iTickets beskikbaar.




