
Karlien van Jaarsveld is terug met nuwe enkelsnit ‘As Jy My Roep’
Die geliefde Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Karlien van Jaarsveld maak ’n opwindende terugkeer na die musiektoneel met haar splinternuwe enkelsnit, “As Jy My Roep” – ’n lied wat ’n perfekte balans tref tussen ligte dansenergie en diep, betekenisvolle lirieke.
Dié liedjie is geskryf deur Karlien saam met Marco van Deventer en Georic Lomas, en bied aanhangers ’n vars, egte klank wat haar groei as kunstenaar weerspieël.
Alhoewel “As Jy My Roep” ’n toeganklike, lekker danstempo het, lê die ware krag van die lied in sy boodskap. Karlien beskryf dit as ’n snit wat ewe gemaklik by ’n Vrydagaand-braai kan speel, maar steeds emosionele diepte en betekenis dra.
“Ek dink mense kan ’n liedjie verwag wat hulle by hul braai op ’n Vrydag kan speel, maar wat substance het,” sê sy.
As ma van vier kinders speel familie ’n sentrale rol in Karlien se lewe – iets wat duidelik in haar musiek deurskemer. Haar perspektief as ouer beïnvloed haar kreatiewe keuses en die boodskappe wat sy wil oordra.
“Ek is op ’n natuurlike wyse baie meer familie-georiënteerd. Ek het self vier kinders en dit maak dat ek altyd aan hulle dink. Ek wonder oor die tipe goed waarna hulle luister. Vir my is dit belangrik dat dit wat hulle na luister, ’n boodskap het,” verduidelik sy.
Met “As Jy My Roep” raak Karlien ook aan haar geloof, en die lirieke weerspieël ’n persoonlike gesprek met God – ’n belofte van gehoorsaamheid en oorgawe wanneer sy geroep word.
Die gepaardgaande musiekvideo is visueel treffend en is in Weiveld geskiet. Kykers kan uitsien na energieke danspassies wat Karlien by Mila G geleer het.
- As Jy My Roep is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.




