
Chris Steyn se nuwe liedjie is vir langafstandliefde
Die gewilde Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Chris Steyn is terug met ’n splinternuwe enkelsnit, “Ek Kom Jou Haal” – ’n opregte liefdesverhaal wat die uitdagings én mooi van ’n langafstandverhouding vasvang.
Dié liedjie is geskryf deur Chris saam met sy liedjieskryfvriende, Marco van Deventer en Georic Lomas, met Chris wat sy eie unieke “geur” by die liedjie gevoeg het. “Ek Kom Jou Haal” vertel die storie van ’n man wat moeg raak vir die afstand tussen hom en sy geliefde – en uiteindelik besluit om alles te los, na haar toe te vlieg en haar te vra om te trou.
“Die liedjie beteken vir my baie, want ek is self in ’n langafstandverhouding,” vertel Chris. “Ek is dalk nog nie heeltemal op daai stadium van trou nie, maar ek verstaan daai verlange en emosie baie goed.”
Met sy aansteeklike sokkie-ritme en opregte lirieke hoop Chris dat luisteraars – veral Suid-Afrikaners wat oorsee werk en hul geliefdes mis – aanklank by die liedjie sal vind. “Ek dink baie mense gaan hulself in die storie herken, en natuurlik hoop ek hulle dans ook lekker saam wanneer die liedjie speel,” voeg hy by.
Die musiekvideo vir “Ek Kom Jou Haal” bring die storie visueel tot lewe: dit begin met Chris wat saam met vriende in ’n kroeg kuier en oor sy meisie gesels, waarna hulle hom aanmoedig om die groot sprong te waag. Hy vertrek lughawe toe, vlieg terug Suid-Afrika toe vanaf Amerika en verras uiteindelik sy geliefde by haar huis.
Die video is in Pretoria geskiet, met Chris se vriende wat ook in die video verskyn. Die produksie is behartig deur ETG Productions.
- Ek Kom Jou Haal is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.




