
Ruhan du Toit vier die mooi van genoeg met nuwe enkelsnit
Die gewilde Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Ruhan du Toit is terug met ’n splinternuwe enkelsnit, “Dit Sal Lekker Wees, Dankie”, wat nou op alle digitale platforms beskikbaar is.
Met ’n vars Afrikaanse country/rock-klank bring dié liedjie ’n ligte, saamsing energie wat perfek pas by Ruhan se kenmerkende styl. Dié enkelsnit is geskryf deur Ruhan self, saam met Georic Lomas en Marco van Deventer — ’n span wat reeds bekend is vir hul sterk, eerlike storievertelling.
“Dit Sal Lekker Wees, Dankie” spruit uit ’n eenvoudige, maar kragtige boodskap: in ’n wêreld waar alles vinnig beweeg en mense konstant meer en beter najaag, vergeet ons dikwels om stil te staan en waardering te hê vir dit wat ons reeds het. Die liedjie herinner luisteraars daaraan dat geluk nie altyd in groot dinge lê nie, maar dikwels in die alledaagse – dit wat reeds genoeg is.
Volgens Ruhan is dit juis hierdie universele tema wat die liedjie so besonders maak. “Ek dink meeste mense kan met die boodskap identifiseer,” sê hy. “Dit gaan nie noodwendig oor spesifieke dinge soos jou bakkie of jou verhouding nie — dit kan enigiets wees wat vir jóú geluk bring.”
Met ’n toeganklike, ligte aanslag en ’n refrein wat gemaak is om saam te sing, glo Ruhan dat die publiek die liedjie met oop arms sal ontvang. “Dis nie swaar nie, dis net lekker,” voeg hy by — ’n eerlike uitnodiging om vir ’n oomblik asem te skep en die lewe te geniet.
Vir Ruhan bly die grootste doel van sy musiek om deel te word van mense se herinneringe. “Musiek vorm deel van ’n mens se ‘memory’. As my liedjies deel kan wees van daardie oomblikke, is dit vir my ’n bonus,” verduidelik hy.
Saam met die vrystelling van die enkelsnit kan aanhangers ook uitsien na ’n liriekvideo, wat dit maklik maak om saam te sing en die boodskap nog dieper te beleef.
“Dit Sal Lekker Wees, Dankie” is ’n warm, egte herinnering dat die lewe nie altyd oor méér gaan nie — soms gaan dit net oor genoeg.
- Dit Sal Lekker Wees, Dankie is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.



