
ONS vra die belangrike vrae met nuwe enkelsnit
Ná die suksesvolle uitreikings van liedjies soos ONS se “Lag”, “Naam” en “Daai Liedjie”, is die duo – Marco van Deventer en Ruvé Erasmus – terug met ’n nuwe enkelsnit getiteld “Sou Jy?”.
Dié liedjie, wat geskryf is deur Marco, Ruvé en Georic Lomas, delf in die ingewikkelde emosies wat dikwels ná ’n verhouding se einde oorbly – veral die vrae wat ’n mens jouself vra wanneer dinge nie uitwerk soos beplan nie.
“Die storie gaan daaroor dat verhoudings partykeer net nie uitwerk nie. Vir watter rede ook al – partykeer is dit net nie die regte tyd of plek nie. En dit was net nie bedoel om te wees nie. Dit is nie lekker nie, maar ’n mens moet dit aanvaar,” verduidelik Marco.
Die kern van die liedjie lê in ’n universele vraag: As jy die tyd kon terugdraai en dinge oor kon doen – sou jy?
Volgens Ruvé raak die liedjie ook aan ’n baie persoonlike stuk van hulle eie verhaal. Marco en Ruvé was self in ’n verhouding, maar dinge het uiteindelik nie tussen hulle uitgewerk nie.
“Niemand beplan om op te breek nie, maar dit gebeur en dan sit jy met vrae oor wat as…,” sê Ruvé.
Hoewel “Sou Jy?” steeds getrou bly aan die kenmerkende klank waarvoor ONS bekend is, verken die duo met hierdie uitreiking ’n tema wat hulle nog nie voorheen in hul musiek aangeraak het nie.
“Ons skryf gewoonlik nie oor ‘break-ups’ nie,” vertel Marco.
Saam met die vrystelling van die liedjie het ONS ook besluit om ’n kragtige visualizer te skep om die emosie van die snit visueel te versterk. Die opname is in ’n ateljee by Doxa Deo gedoen.
Met “Sou Jy?” wys ONS weer hul vermoë om eerlike stories te vertel – stories wat luisteraars herinner aan liefde, verlies en die vrae wat soms vir altyd bly hang.
- Sou Jy? is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.




