
Mirandi verras met nuwe weergawe van ‘Wille Sarie’
Mirandi, die naaswenner van Die Kontrak se derde seisoen, het die musiekwêreld behoorlik aan die gons gehad met haar ongelooflike talent. Haar optredes tydens die kompetisie het die kenners se oë laat rek, en nou stel sy haar nuwe enkelsnit, Wille Sarie, amptelik vry.
Wille Sarie, wat geskoei is op die 1950 liedjie
Good Golly Miss Molly deur Little Richard, bied ’n opwindende mengsel van blues, rock en jazz musiek. Mirandi het die lirieke self geskryf, terwyl die melodie uit
Good Golly Miss Molly
spruit.
Mirandi deel: “Die idee vir
Wille Sarie het begin toe ons op pad see toe was. Ek is baie streng grootgemaak. Ons mag nie uitgegaan het en gaan dans het of na sokkies toe gaan nie.” Sy voeg by, “Wille Sarie is ’n lewendige liedjie wat ’n kant van my wys wat almal ken. Almal weet ek is sag, maar ek kan ook lekker laf wees as ek die dag lus is. Dit som myself op.”
Die liedjie vertel die verhaal van ’n persoon wat streng grootgemaak is, maar net ’n bietjie wil losbreek en gaan dans. “Dit gaan oor die hardwerkendes wat net ’n bietjie wil litte losmaak,” verduidelik Mirandi.
Mirandi hoop dat die publiek
Wille Sarie met ope arms sal ontvang en dat die liedjie mense dadelik sal laat dans wanneer hulle dit hoor. Sy vertel dat die terugvoer op die liedjie reeds oorweldigend positief is, veral van die ouer generasie wat nostalgies is oor die dansbare musiek van die 50’s.
Sy benadruk dat sy haar toekoms in die Here se hande plaas en glo dat Hy haar op die regte paaie in haar loopbaan sal lei. Mirandi beskou haar deelname aan Die Kontrak en die geleentheid om Arnold Coleske te ontmoet as een van haar grootste hoogtepunte en waardeer die ondersteuning van Coleske Artist Management.
- Wille Sarie is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.