
Riana Nel gee beheer oor met diep roerende nuwe enkelsnit
Die geliefde sangeres en liedjieskrywer Riana Nel het sopas haar mees persoonlike en geestelike enkelsnit tot op hede uitgereik: “Laat U Wil” – ’n liedjie wat haar diep geloofsreis en hart vir God op ’n eerlike en rou wyse weergee.
Wat begin het as ’n eenvoudige gebed saam met haar kinders – die woorde van die Onse Vader – het met tyd in Riana se hart ’n melodie begin vorm. Ná ’n jaar van musiekskryf, het sy eerder haar hart oopgebid: “Laat U wil geskied, Heer.” Vanuit daardie plek van oorgawe is “Laat U Wil” gebore – nie met ’n plan of mark in gedagte nie, maar as ’n spontaan-deurleefde stukkie aanbidding in haar kamer.
“Ek het nie hierdie liedjie geskryf om ’n treffer te wees nie. Dit was ek en God. Ek het dit geskryf omdat ek nie meer beheer oor alles wil hê nie. Ek vertrou Hom,” het Riana gesê.
Anders as haar vorige werk wat soms vanuit ’n evangelistiese perspektief gekom het, is hierdie liedjie eerder ’n weerspieëling van ’n persoonlike verhouding tussen Riana en God. Dis eerlik, sonder enige produksie-resep of kommersiële agenda.
“Ons het nie gekyk na ‘charts’ nie. Ons was nie gebind aan wat werk nie. Ons het bloot gehoop dit sou iemand anders ook in hulle stilte vind.”
Dié liedjie is saam met Graaff, Floors, Arnold en Paulo verwerk – ’n span wat nie net musikale bydraes gemaak het nie, maar ook deel geword het van die liedjie se geloofsreis. Die vryheid om eerlik musiek te maak sonder druk, het vir Riana bevrydend gevoel..
“Ek is nou in my middel-veertigs en weet nou meer as ooit: wanneer jy jou lewe neerlê, is dit waar jy werklik begin lewe.”
Riana hoop dat “Laat U Wil” nie net mooi klink nie, maar dat dit ’n indruk maak – dat dit mense sal herinner aan die krag en rustigheid wat kom wanneer mens beheer oorgee aan God. Dat dit mense sal help om weer Sy stem te hoor – veral in tye van onsekerheid.
“Ek bid dat mense sal besef: hierdie God is goed. Hy sien wat ons nie sien nie. Hy is ons Verlosser.”
Die musiekvideo – Riana se vyfde saam met Ryno Cronje van New Ending Media – is op ’n berg verfilm, met Riana wat op ’n klavier in die natuur speel terwyl die son skyn. Die eenvoud van die video reflekteer die essensie van die liedjie self: rou, eg, sonder versiering – maar met soveel diepte.
“Ons eerste location het toe gewerk. Selfs die klavier is op wonderbaarlike wyse bo-op die berg gekry. Ek het gehuil. Alles het anders gewerk hierdie keer.”
- Laat U Wil is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.