Lukas 10:2 inspireer Appel se nuwe enkelsnit vanaf die kortspeler ‘Genisis’

Die sanger en liedjieskrywer Appel het sopas die eerste enkelsnit vanaf sy opkomende vyf-snit kortspeler (EP), “Genisis”, uitgereik. Dié liedjie, getiteld “Die Boer Hier Binne My”, is ’n eerlike, grondvaste stuk musiek wat diep resoneer met die tye waarin ons leef.


“Dis die hartklop van die hele EP. Stil, eerlik en vol waarheid. Dit som presies op waar ek is – as mens, pa en kunstenaar. Ek dink mense het op hierdie stadium minder behoefte aan geraas en meer aan egtheid,” sê Appel.


Die inspirasie vir die liedjie het gekom tydens gesprekke met boere en werkende mense regoor die land. Appel het gereeld gehoor hoe moeilik dit geword het om iets van nuuts af op te bou – veral in landbou. In daardie konteks het die woorde van Lukas 10:2 hom getref: “Die oes is groot, maar die arbeiders is min.”


Dié vers verskyn ook in Matteus 9:37 – ’n teksgedeelte waarin Jesus die dringendheid van werk in die wêreld uitlig, en die behoefte aan mense wat bereid is om op te staan en aan te vat.


“Ek het daai vers gelees en iets het my getref. Dis nie net ’n geestelike beeld nie – dis ook prakties. Dis ek. Dis mense wat opdaag, selfs al is hulle moeg. Dis ’n huldeblyk aan hulle.”


Appel neem luisteraars terug na sy agtergrond – nie ’n stil huis nie, maar een vol mense, klanke en stories.


“Ek het grootgeword in ’n huis waar dit gedruis het van kinders, oumense, geselskap en lewe. Mense wat gelag het, gepraat het, en ook swaar gedra het. Hierdie lied is gebore uit daardie mengsel – van werklikheid, harde werk, en geloof.”


“Die Boer Hier Binne My” is nie ’n gesofistikeerde poging om te beïndruk nie. Dis ’n liedjie wat probeer herinner – aan eenvoud, aan roeping, en aan mense wat bly staan. “Ek hoop dit bring rus. Ek hoop iemand voel minder alleen. En ek hoop dit herinner mense dat hulle saaiwerk nie tevergeefs is nie.”


Die musiekvideo, onder regie van Christiaan Wolf, is opgeneem op plaasgrond net buite Pretoria. In koue oggendlig, met reëntonele en sterk portrette van boere, is daar doelbewus gestreef na egtheid en emosionele trefkrag.


“Christiaan verstaan gevoel. Die portrette van die boere sê meer as wat ek ooit sou kon. Dit was belangrik vir ons om nie iets te speel nie – maar iets regtig te wys.”


Die projek is met trots ondersteun deur Case IH en Laeveld Agrochem, twee organisasies wat die hart van landbou verstaan en self elke dag tussen boere werk.


Terwyl die EP grootliks getrou bly aan Appel se bekende styl van eerlike Afrikaanse musiek, is daar ook plek vir verrassings. Onder die snitte is die 80’s rock-geïnspireerde “Alice”, wat Appel beskryf as die “swartskaap” van die stel.


“Alice bring balans. Sy herinner my daaraan dat die lewe nie net gebed en swaar is nie, dit’s ook energie, chaos, en musiek wat mag uitskiet.”


“Genisis”, Appel se nuwe kortspeler, beloof om dieper te gaan as net melodie. Dis ’n projek wat streef na emosionele egtheid en wil eer bring aan mense se alledaagse stryd én hoop.


Met “Die Boer Hier Binne My” as eerste enkelsnit, word dit duidelik: Hier’s nie net musiek op pad nie hier’s ’n boodskap.



  • Die Boer Hier Binne My is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.


LUISTER HIER
deel hierdie artikel
Deur Coleske Artists 31 Julie 2025
Riana Nel gee beheer oor met diep roerende nuwe enkelsnit
Deur Coleske Artists 20 Junie 2025
Chris Steyn en Bella se liedjie ‘Winter in die Kaap’ roer harte
Deur Coleske Artists 05 Junie 2025
Jay du Plessis maak winter warmer met nuwe liedjie ‘Dans Die Vlamme Dood’
MEER ARTIKELS