Ruhan du Toit sê ‘totsiens’ vir die jaar met nuwe enkelsnit

Ruhan du Toit, een van Afrikaans se mees geliefde en herkenbare stemme, sluit 2025 op ’n ligte en positiewe noot af met die uitreiking van sy nuwe enkelsnit, “Totsiens” – ’n liedjie wat perfek vasvang hoe ons met hoop en dankbaarheid die ou jaar groet en die nuwe een verwelkom. 


“Totsiens” is ’n vrolike, kontemporêre Afrikaanse liedjie wat handel oor die krag van verandering en die mense wat lig bring in moeilike tye. “Partykeer in die rofste tye het jy net daai een iemand nodig wat alles kom verander, sodat jy ‘cheers’ kan sê vir die slegte tye,” verduidelik Ruhan.


Dié liedjie is geskryf deur Georic Lomas en Marco van Deventer, twee name wat onlangs ook met die Aitsa-toekenning vir liedjieskrywer van die jaar weggestap het. Die lirieke en melodie bring die perfekte balans tussen inspirasie en energie – met Ruhan se kenmerkende stem wat die boodskap met opregtheid en warmte oordra.


“Ek wou die jaar afsluit met iets wat mense laat glimlag,” sê Ruhan. “Ons almal het dinge wat ons graag wil agterlaat – en ‘Totsiens’ gee jou daardie lekker gevoel van afsluiting én nuwe begin. Dis ’n liedjie wat mens kan luister of jy verlief is, of net klaar is met alles wat sleg was.”


Volgens hom is “Totsiens” bedoel om luisteraars positief te laat voel. “Ek hoop dit bring lig en vrolikheid – iets wat jy sommer enige tyd van die dag kan aansit om jou gemoed te lig,” voeg hy by.


Die musiekvideo, wat wat saam met die enkelsnit uitgereik word, bied ’n vars, egte kykie agter die skerms. Die produksiespan het doelbewus gekies vir ’n spontane “rehearsal”-styl video – sonder dat die orkes of videograaf die liedjie vooraf gehoor het. “Dit het die verfilming ongelooflik natuurlik gemaak,” sê Ruhan. Die video is by Upper East Side in Hazelwood, Pretoria verfilm, met Eric Graham en sy span aan die produksie, saam met Georic Lomas en Marco van Deventer.



Met “Totsiens” wys Ruhan du Toit weer hoekom hy een van die mees gerespekteerde kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf bly – ’n kunstenaar wat telkens nuwe lewe in die taal en sy musiek blaas.



  • Totsiens is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.


LUISTER HIER
deel hierdie artikel
Deur Coleske Artists 11 November 2025
Die Goue 100 Finale: ’n Muntstuk wat harte én geskiedenis vasvang
Deur Analda Breedt 03 Oktober 2025
Riana Nel keer terug met nuwe album ‘Sing’
Deur Coleske Artists 03 Oktober 2025
Talentvolle JACOBUS keer terug met nuwe enkelsnit
MEER ARTIKELS