Chris Steyn vry na ’n ‘bruinoog blond’ in nuwe liedjie

Chris Steyn, die talentvolle sanger wat Suid-Afrika behoorlik verras het met liedjies soos “Plaas Dorp Toe”, “Ek Kannie” en “Helemal”, is terug met ’n splinternuwe enkelsnit – en hierdie keer raak hy meer persoonlik as ooit. “Bruinoog Blond” is vandag amptelik uitgereik en beloof om ’n gunsteling onder aanhangers te word.


Dié liedjie is ’n warm en eerlike huldeblyk aan sy meisie – en volgens Chris verduidelik dit presies wie sy is en hoe sy dinge doen. “My nuwe enkelsnit ‘Bruinoog Blond’ gaan oor my meisie, en dit verduidelik presies hoe sy is en hoe sy goed doen,” vertel hy.


Die liedjie is geskryf deur Georic Lomas en Marco van Deventer, twee liedjieskrywers wat ook die Aitsa vir liedjieskrywer van die jaar ontvang het. Chris is vol lof vir die span: “Ek dink Georic en Marco het net presies gecapture wat en hoe my meisie is, en dit in ’n cool liedjie vir my omskep.”


“Ek dink die rede hoekom ek die liedjie nou vrygestel het, is net die blote feit dat dit ’n bitterrrr lekker liedjie is – en ek hoop mense kan hulself daarmee vereenselwig.”


Hoewel “Bruinoog Blond” steeds die tipiese Chris-gevoel dra, erken hy dat dié liedjie ’n bietjie meer persoonlik is as sy vorige treffers. “Dit is meer persoonlik as ‘Plaas Dorp Toe’ of ‘Ek Kannie’,” sê hy. “Ouens wie se meisies blonde hare én bruin oë het, gaan hierdie liedjie vir dieselfde rede luister as ek – en dit net so baie geniet.”


Uiteindelik hoop Chris dat die liedjie net vreugde bring: “Ek wil hê mense moet dit geniet, lekker saam sing, en dat dit vir hulle ’n goeie gevoel gee.”


Hoewel daar nie ’n vol musiekvideo beplan word nie, kan aanhangers uitsien na ’n liriekvideo wat op YouTube beskikbaar sal wees.



Chris Steyn se aanhangers kan regmaak vir nog ’n treffer wat sommer vinnig deel van hul daaglikse en somer speellys gaan word.



  • Bruinoog Blond is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.


LUISTER HIER
deel hierdie artikel
Deur Coleske Artists 05 Desember 2025
This is a subtitle for your new post
Deur Analda Breedt 14 November 2025
Ruhan du Toit sê ‘totsiens’ vir die jaar met nuwe enkelsnit
Deur Coleske Artists 11 November 2025
Die Goue 100 Finale: ’n Muntstuk wat harte én geskiedenis vasvang
MEER ARTIKELS