Appel se vyfsnit kortspeler is hier

Die veelbekroonde liedjieskrywer en sanger Appel het pas sy splinternuwe vyfsnit-kortspeler, “Genesis”, op alle digitale stroomdienste bekendgestel. Twee van die snitte, “Die Boer Hier Binne My” en “Sterre”, is reeds vroeër in Augustus uitgereik en het groot aandag getrek. Nou is die volledige kortspeler vir luisteraars beskikbaar.


Die titelsnit, “Genesis”, is ’n diep persoonlike lied wat Appel se geloofsreis verwoord. “Ek begin elke jaar weer by Genesis... die dag as jy jou paaie kruis met die Here, is nie net ’n mooi oomblik nie. Dis jou eie begin. En as jy daai dag regtig raaksien, word die geraas van die wêreld net stiller. Jy en Hy bly oor. Minder van jou, meer van Hom,” verduidelik hy.


Met “Sterre” keer Appel terug na die vroeë dae van sy liefdesverhaal met sy vrou. “Sy het in die stad gebly en ek op die plaas. Die kilometers tussen ons was lank, maar die hemel was dieselfde. Wanneer ons verlang het, het ons opgekyk na dieselfde sterre en geweet ons is tog naby,” vertel hy.


“Die Boer Hier Binne My” is geïnspireer deur gesprekke met boere en werkers regoor Suid-Afrika. Appel sê: “Ek het gereeld gehoor hoe moeilik dit geword het om iets van nuuts af op te bou – veral in landbou. In daardie konteks het die woorde van Lukas 10:2 my getref: Die oes is groot, maar die arbeiders is min.”


Die fokussnit van die kortspeler, “Alice”, bring ’n ander energie. Geïnspireer deur 80’s-rock, beskryf Appel dit as die “swartskaap” van die EP: “Sy herinner my daaraan dat die lewe nie net gebed en swaar is nie, dis ook energie, chaos en musiek wat mag uitskiet.” Die musiekvideo, verfilm deur Eric T Graham en Tehan Buys, is ’n nostalgiese terugflits na skooldae – met algebra, ’n te mooi proefjuffrou en stoutgat kinders wat uiteindelik hul plek in die wêreld vind.



Die kortspeler word afgerond met Lemoenkloof, ’n lied wat Appel as rigtingwyser vir sy kind geskryf het. “Ek onthou daai aand in die Paarl by ’n gastehuis met rooi bakstene. Ek het in die wind ’n koor gehoor wat ek nie kon ignoreer nie. Twee weke later was daar ’n lied.”

Met “Genesis” bied Appel ’n unieke balans van geloof, liefde, inspirasie en nostalgie – ’n projek wat sekerlik diep gaan resoneer met sy luisteraars.



  • Genesis is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.


LUISTER HIER
deel hierdie artikel
Deur Analda Breedt 11 September 2025
EDEN kom klop ná byna 10 jaar wéér!
Deur Coleske Artists 11 September 2025
Chris Steyn se nuwe LIEDJIE IS vir die met twee linkervoete
Deur Coleske Artists 18 Augustus 2025
ONS verf die dansvloer blou met nuwe enkelsnit
MEER ARTIKELS