
EDEN kom klop ná byna 10 jaar wéér!
Dis byna tien jaar later, en die wens van duisende aanhangers is uiteindelik bewaarheid: die ikoniese musiekgroep EDEN is terug op die verhoog.
“Arnold het gevoel omdat Afrikaans vanjaar sy 100ste bestaansjaar vier, moet ons daardie nostalgie terugbring,” vertel Paulo Azevedo.
EDEN het die Afrikaanse musiekbedryf betree in 2000 by Aardklop, toe hulle hul debuutalbum “If” uitgereik het. Die oorspronklike viertallige groep het bestaan uit Paulo Azevedo, Johan Vorster en Sean Else, Cornel Driessen. In 2003 het hulle die baanbrekersalbum “Point of No Return” bekendgestel. Nadat Sean die groep verlaat het, het Jay, Paulo en Johan die groep voortgesit en albums soos “EDEN” (2006), “Knieë Lam” (2008) en “Dekade” (2010) opgelewer. Met die album “Nooit Oud Raak Nie” het hulle in 2015 amptelik afskeid geneem.
Nou, in 2025, is die legendariese klanke van EDEN weer terug – hierdie keer as ’n drietal bestaande uit Jay du Plessis, Paulo Azevedo en Sean Else.
“Sean het sulke belangrike rol in die beginjare van EDEN gespeel,” verduidelik Paulo. “Ons is almal in amper in on vyftigs en het gedink: kom ons geniet dit net weer,” lag Sean.
Hul eerste optrede as die “nuwe” EDEN vind plaas by die Afrikaans is 100 Jaar Groot-konsert op 20 September 2025 in die DHL-stadion in Kaapstad. Net ’n week later, op 27 September, bedank hulle hul ondersteuners met ’n gratis optrede by Stoetbul in Pretoria – ’n spesiale geskenk aan die lojale aanhangers oor die jare heen.
As ’n kersie op die koek stel EDEN ook hul splinternuwe enkelsnit, “Kom Klop Weer”, bekend – geskryf deur Marco van Deventer, Georic Lomas, Paulo Azevedo en Bella Coleske.
“Die lirieke speel slim met titels uit ons vorige treffers. Vir enige ou EDEN-aanhanger gaan dit soos ’n tydreis voel,” sê Jay.
Die musiekvideo vir dié liedjie, vervaardig deur Eric T Graham en Tehan Buys van ETC Creative, vang juis hierdie nostalgie op ’n speelse manier vas. “Dit begin in ’n ouetehuis waar ons stokoud is, en eindig by Stoetbul waar ons soos altyd die lewe voluit leef,” verduidelik Paulo met ’n glimlag.
Vir aanhangers beteken EDEN se terugkeer meer as net musiek – dit is ’n viering van herinneringe, vriendskap en die tydlose krag van Afrikaanse musiek.
- Kom Klop Weer is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.