
Só maak Spoegwolf reg vir Aig 2025
In die eerste episode van Die Oomblik kry kykers ’n eksklusiewe blik agter die skerms waar Spoegwolf voorberei vir hul groot verskyning op die Afrikaans is Groot 2025-verhoog.
Dié ses-episode doku-reeks neem gehore op ’n intieme reis saam met vyf kunstenaars terwyl hulle fisiek én emosioneel gereed maak vir een van die grootste Afrikaanse verhoogproduksies van die jaar.
wie is spoegwolf?
Spoegwolf, die ikoniese Afrikaanse rockgroep van die Paarl, het in 2012 ontstaan en bestaan uit Danie du Toit, Moskou du Toit, Chris von Wielligh en Albert van der Merwe.
Hul debuutalbum, “Swaartekrag” (2012), het die grondslag gelê vir ’n merkwaardige loopbaan. Dit is opgevolg deur “Somer” (2015), wat aan hulle ’n Ghoema-toekenning vir Beste Alternatiewe Album besorg het. Daarna volg “Die Donker Toring” (2017) en “Koma” (2019) – laasgenoemde het onmiddellik die nommer een posisie op Apple Music se ranglys ingeneem.
In 2020 verras hulle aanhangers met twee vollengte albums, “See” en “Wind”, asook die EP’s “Goud” en “Silwer”. In 2022 volg nóg twee projekte: “Droombrief” en “Dryf” – bewys van ’n band wat kreatief nooit stilstaan nie.

“Toe ons hoor ons speel by Afrikaans is Groot… ons het eintlik by Alternatief is Groot by die GrootFees in Hartenbos daarvan gehoor,” vertel Danie du Toit. “Ons was soos… hulle gaan dit mos nou nooit doen nie.”
Dié nuus moes aanvanklik stil gehou word – iets wat nie maklik was nie. “Ek dink ons moes dit nog ’n geheim hou. Dit was baie moeilik om daai nuus te kry en dit nie met jou ouers te deel nie. Ek het vir my vrou daarvan gesê,” lag Danie.
DIE GROOTSTE ONDERSTEUNER EN AANHANGER
Vir hul grootste ondersteuner het die groep vir Jürgen von Wechmar, platebaas van Sunset Recording Studios in Stellenbosch, gekies – die man wat al hul albums help vorm het.
“Dit raak my hart baie dat hulle só voel oor my,” vertel Jürgen. “Ek is seker een van hul grootste fans. Ek en my vrou support die band – ons is groot supporters.”

In Bloemfontein ontmoet ons nóg ’n lojale aanhanger: Shaun Engelbrecht, ’n persoonlike afrigter en lewensafrigter wat reeds op 18-jarige ouderdom aanklank by Spoegwolf se musiek gevind het.
“By ’n Spoegwolf-konsert skree en sing ek woord-vir-woord saam,” vertel Shaun.

SES WEKE VOOR DIE OOMBLIK
Ses weke voor Die Oomblik aanbreek, begin die kreatiewe beplanning in erns.
“We want to curate something spectacular for your segment. A prop that would transcend the whole stage into something new,” verduidelik Hayley Bennett-Freidin, uitvoerende kreatiewe regisseur van die produksie.
Vir hul Afrikaans is Groot-optrede sing Spoegwolf ’n kragtige mengsel van “Geel” en “Storm.”
“The drummer drops down, you all drop down from the roof,” verduidelik Hayley verder – ’n konsep wat die gehoor letterlik asemloos sou laat.

Alles kom bymekaar

’n Paar dae voor die konsert word alles wat maande lank op papier beplan is, fisies saamgestel by die SunBet Arena. Outomatiseringstelsels word fyn ingestel, klanktoetse voltooi en mediese induksies gedoen.
Corné Roodt, stelbouer vir Afrikaans is Groot, verduidelik dat Moskou se dromstel veilig en stewig gemonteer moet word sodat dit hoog in die dak kan “leef” voordat dit dramaties afsak tydens die vertoning.
Vuurwerke en vlamme word deeglik getoets – elke detail perfek uitgewerk.
En dan… breek die oomblik aan
- Kaartjies vir Afrikaans is Groot 2026 is vanaf 31 Maart om 10:00 eksklusief aanlyn op iTickets beskikbaar.




